Druk
Kategorie: André Groenewaldt

Hoe Belangrik is die Mens Regtig?

Ek wonder oor hoekom die daaglikse gejaag so belangrik is vir die meeste van ons?  Ek wonder of mense regtig weet wat die onderskeid is, tussen die tydige en die ewige, en verder, word daar ooit geglo aan ewigheid? Dit laat my wonder of ons, die mens nie ‘n te groot ophef maak van onsself nie? Is ons, en ons doen en late, nie té belangrik in ons eie oë nie?  

God het vooraf geweet hoe die mens gaan optree, dink en doen. Wat die invloed van die mens wat Hy geskep het, gaan wees op die verloop van die geveg teen geeste in die lug. Omdat ons worstelstryd nie is teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug, het God geweet ons is nie instaat om die geveg sonder Hom te veg nie. Maar is dit nie hoekom ons regtig op aarde is nie? Om die geveg saam met God te veg. Nie vir eie belang, voorspoed en materialisme nie!

 

Dit is tog duidelik uit God Se Woord, dat God ‘n koningkryk in die ewige realm het. ‘N koninkryk ver verhewe bo die kortstondige nietige omstandighede op aarde wat die mens so belangrik ag. Word die belangrikheid van die mens se bestaan, nie juis gesetel daarin, dat ons op aarde is vir God, en nie vir onsself nie? Is dit nie so dat daar ‘n breuk onstaan het in die koninkryk van God nie, wat God graag herstel wil sien nie? Is dit nie die ware rede hoekom die mens geskape is nie? Nie vir ons eie selfsugtuge redes nie, maar om as dienaars op te tree, in die stryd tussen goed en kwaad nie?

God het satan uitgewerp uit Sy koninkryk – Openb 12:9. Dikwels word die vraag gevra of daar ander lewe in die heelal is. Die antwoord is onomwonde natuurlik, maar nie lewe soos wat ons dit ken nie!! As daar nie ander lewe in die heelal is nie, waar is die koninkryk van God dan? Want Sy koninkryk, is nie op aarde nie.  Want ons op aarde is huidig in die tydige lewe en nie in die ewige lewe nie. God is in die ewige lewe, daar waar Sy koninkryk is, en waarvan die wat Hom getrou ondersteun ook deel gaan word! Daar is sonder twyfel ‘n wêreld onsiende en onbewus deur die meeste van ons, want ons staar ons net vas aan die tydelike verganklike materialisme rondom ons.

God, wat Is, wie Se naam ons nie eers ken nie, het geweet dat daar ‘n sondeval sou wees, dat Hy Jesus sou moes stuur, omdat die mens nie die mas alleen sou opkom in die geveg teen die bose magte nie, dat daar ‘n groot verdrukking gaan kom, dat die einde van tyd, want dit is net huidig op aarde wat tyd ‘n faktor is, sal aanbreek, dat satan opgesluit gaan word, dat daar ‘n duisendjaar van vrede op aarde sal heers en dat mense geskei gaan word tussen of ewigheid of die tweede ewige dood. Die mens is al die dinge ook vooruit gesê, en Satan is ook vooraf gewaarsku, omdat die belangrikste aspek nie is wat hier op aarde gebeur nie, maar of God se koninkryk herstel gaan word - die breuk in Sy koninkryk wat deur die groot draak se afvalligheid veroorsaak is.  Die enigste invloed en reg wat die mens regtig  het, is net keuses. God het aan Abraham gesê Hy sal ‘n verbond oprig tussen hom(Abraham) en sy nageslag, maar hulle moes sy verbond hou. Maw die mens moes net die verbond hou, net glo en daarmee saam die liefde uitleef!! So eenvoudig was dit, en so eenvoudig is dit vandag nog.

Dit is hoekom dominees die mees belangrikste en edel beroep op aarde het. Dit is om die mensdom te kry om te glo en vertrou. Dat niks wat die mensdom as belangrik sien betreffende die aarde van enige belang is nie. Nie die kar wat jy ry nie, nie jou beroep, hoe briljant jy ookal is nie, nie wat jy vir armes doen nie, alhoewel dit nader aan die waarheid is, dat alles wat ons op aarde doen rondom die materialisme, niks beteken, as ons nie ons Hemelse Vader net glo en vertrou nie!! Mense hef hul beroepe, hul sportprestasies, hul kinders, hul drome, hul lewens op, ten koste van wat? Ten koste van Ewigheid? Ek hoor soveel keer dat mense sê, en ook dat daar vir mense gesê word, hulle het net een lewe, daarvan moet die beste gemaak word. Intussen is ons huidig nie in lewe nie, maar is in die dood, en net ons Hemelse Vader kan ons red uit die dood, en ons die ewigheid laat be-erwe. Om daarvoor te kwalifiseer moet ons egter reg kies!!

Die doel van die mens is om deel uit te maak van God se raadsplan om Sy koninkryk herstel te kry, en die wat glo en vertrou en Hom ondersteun, sal ingenooi word in die koninkryk van God. Maar die verskil is, mense moet regtig glo dat daar ‘n God is, en nie onder die waan verkeer dat God ver verwyderd is, onbetrokke is, en net sit en wag vir ons om eendag ons opwagting te maak en Hy moet intussen voldoen aan ons verwagtinge en wil nie. Mense vra so baie van ons Hemelse Vader, ipv te doen vir Hom. Hy het uitgespel wat ons moet doen om Sy koninkryk te be-erwe. Dit berus mos nou by ons om te doen soos Hy voorgeskryf het, en die keuse by ons gelaat het. Ons kan mos nie verwag dat Hy ook nou nog moet sorg dat ons in Sy koninkryk kom nie? Ons moet kies!!

Mat 4:8 Weer neem die duiwel Hom saam na ‘n baie hoë berg en wys Hom al die koninkryke van die wêreld en hulle heerlikheid,

Mat 4:9  en sê vir Hom: Al hierdie dinge sal ek aan U gee as U neerval en my aanbid.

Jesus is blootgetel aan die duiwel se verleiding!! Soos bo aangedui. Natuurlik word die mens ook verlei, en hoeveel van ons land in sy strik? Is dit die van ons wat so jaag agter materialisme aan?

Dit is daar waar ek glo die punt gemis word. Ons verantwoordelikheid is teenoor onsself om Sy koninkryk te be-erwe. Nie die skuld gee aan alles en almal behalwe onsself nie. Die mens soek geluk en vrede en voorspoed, en liefde en heilsaamheid, nie in ewigheid nie, maar op aarde, en dit is waarom ek wonder of die mens homself nie te belangrik ag nie. So belangrik, dat daar nie tyd of plek is vir enigiets in hul lewe behalwe hul eie behoeftes nie.

 

Dit kom voor asof mense geensins besef hoe tydig en leeg die huidige lewe is, en hoe nikseggend dit is, indien daar nie met volle opregtheid geglo en vertrou word nie. Om bereid te wees om alles op te gee, en te vertrou en glo, ongesiens ongestoord, met vastighed  glo en net daaraan vashou, dan maak hartseer, ongelukkigheid, afguns en al die normale daaglikse versugtinge nie meer soveel saak nie, en word dit wat as onoorkoomlike swarigheid, en probleme ervaar word, baie makliker hanteer. Dit is die verskil wat die verkryging van ewigheid in vergelyking met die tydige, beteken.

Wat ongetwyfeld waar is, is dat die tyd en gebeure, alles op aarde vooruit bepaal is deur God. Dat niks wat ons doen en beplan om die aarde enigsins te verbeter of te verander, vir ons enige waarde het nie. Dit staan so geskrywe, en dit maak my baie benoud omdat daar soveel mense is wat eintlik regtig onbewus is van wat regtig besig is om te gebeur, en die tyd van die einde is so bitter naby - Opn 2:10  En hy het vir my gesê: Moenie die woorde van die profesie van hierdie boek verseël nie, want die tyd is naby.

Opn 22:11  Wie onreg doen, laat hom nog meer onreg doen; en wie vuil is, laat hom nog vuiler word; en laat die regverdige nog regverdiger word, en laat die heilige nog heiliger word.

Opn 22:12  En kyk, Ek kom gou, en my loon is by My, om elkeen te vergeld soos sy werk sal wees.

Opn 22:13  Ek is die Alfa en die Oméga, die begin en die einde, die eerste en die laaste.

Opn 22:14  Salig is die wat Sy gebooie doen, sodat hulle reg kan hê op die boom van die lewe en ingaan deur die poorte in die stad.

Waarmee is die mens regtig besig? Ek wonder.