Druk
Kategorie: Publiek

Die Waarheid en die Bybel:

Ek stem saam dat ons voorbereid moet wees, soos ek hier en op ander plekke in die Bybelskool, onder andere oor Openbaring, skrywe.  Voorbereiding vir my lê, in die woorde van Paulus aan die Efesiërs:
 
• in 'n noue verhouding met God self,
• 'n weerbaarheid teen die liste van die duiwel soos dit uitspeel in die verskillende magstryde,
• 'n vasstaan in die waarheid (ek maak sommer hier onder 'n uittreksel oor die waarheid wat ek so pas voltooi het en Woensdag in my stuk oor Psalm 119 geplaas sal word),
• 'n doen van geregtigheid,
• 'n bereidheid om te evangeliseer (by wyse van spreke, want dit gaan eintlik oor die evangelie van vrede wat uitgedra moet word, ietsie anders as om net mense tot bekering te probeer bring),
• 'n vaste geloof,
• 'n vasstaan in die verlossing wat God bring, en
• 'n gefokusde lees en leef van die Woord.
• Dít alles word saamgevat in 'n biddende lewe, veral vir die "heiliges" (die mense wat saam in dié oorlog is) wat miskien die belangrikste ding wat ons kan doen.
My bydrae oor die waarheid in Psalm 119:153-160:
 
Dit is ook nie anders in die NT nie.  Dit is ontsettende insiggewend om te kyk na die beklemtoning van die waarheid in die Johannes evangelie juis in die konteks van teenstand:
•       Jesus noem Homself die Waarheid in die konteks van die naderende verraad van Judas en die verloëning van Petrus (Joh. 14:6).  Die waarheid lok altyd teenstand uit.
•       Jesus getuig juis oor die waarheid as Hy deur Pilatus in die onregverdige verhoor ondervra word, net voor die uiteindelike verguising van die kruis: “Hiervoor is Ek gebore en hiervoor het Ek na die wêreld gekom: om oor die waarheid te getuig.  Elkeen wie se bestaan in die waarheid gegrond is, luister na my stem.” (Joh. 18:37).
•       Die Heilige Gees word (onder andere) met die titel van Gees van waarheid bekendgestel (Joh. 14:17) in die konteks van die wêreld wat dié waarheid nie kan ontvang nie, trouens dit met stokke en swaarde sal beveg.  Hy is immers ook die Trooster, dié een wat in teenstand kan vertroos.
•       Jesus begelei ons deur die Gees op soortgelyke wyse in die volle waarheid (Joh. 16:13) in die konteks van die teenstand van die wêreld. Die Here Jesus bid nie dat ons uit die wêreld weggeneem sal word nie, maar wel van die Bose bewaar sal word (Joh. 17:15 – dit is ook die rede waarom Hy dié gebed in die Ons Vader ingesluit het).
•       Let op dat Jesus spesifiek sy Vader namens ons vra: “Heilig hulle deur die waarheid – u woorde is die waarheid.” (Joh. 17:17).  Dit kon netsowel ‘n opmerking oor Psalm 119 gewees het! 
Laat ek dit dus helder stel:
Daar is dus geen innerlike stryd tussen die Waarheid as Persoon – Jesus, die vleesgeworde Woord van God – en die waarheid van die woorde van God nie – die Bybel, die skriftelike Woord van God. 
•       Dat die Bybel deur mense geskrywe is met die taal en kennis van hulle konteks is onteenseglik só.  Dat ons die Bybel in daardie konteks moet lees en uitlê, is onteenseglik ook só. 
•       Maar, die Bybel is ook die Woord van God, waarin ons God se stem hoor.  Dié mense is deur die Gees van God geïnspireer en het onder die leiding van die Heilige Gees van God die woorde van God neergepen.
•       Die Bybel is daarom nie net in die algemeen die Woord van God nie. Dit is ook in die spesifieke uitsprake daarin die Woord van God.  Dit bevat ook, en is ook, die woorde van God.
Dít is waarop ek my lewe bou, in die nougesette lees, luister en leef van die Bybel as die Woord van God.


Groete

Chris van Wyk | Gemeenteleraar | Bybelskool |