Numeriese Waardes Van Die Bybel

(Met erkenning aan Ds. Frans Joubert)

Wat is hierdie wonderlike feite?

Die Ou Testament is oorspronklik in Hebreeus geskryf en die Nuwe Testament oorspronklik in Grieks. Hierdie feite is in hierdie oorspronklike woorde waarin die Bybel geskryf is, ontdek. Vereers moet ons u aandag vestig op iets wat baie belangrik is. Die getal “sewe” kom meermale in die Bybel voor as enige ander getal. Dit is die geval vanaf die eerste boek van die Bybel tot by die laaste. So byvoorbeeld was die Sabbat die sewende dag. 

In Egipte was daar sewe jaar van oorvloed en sewe jaar van hongersnood. Met die inname van Jérigo moes sewe Priesters met sewe trompette die volk sewe maal rondom die stad lei. Elke sewende jaar moes Israel die grond ‘n volkome rus laat kry het.

Salomo het sewe jaar lank aan die tempel gebou, en vir sewe dae lank fees gevier met die inwyding.

Naäman moes sewe keer in die Jordaan onder die water ingaan.


In die Boek van Openbaring, die laaste Boek in die Bybel, is hierdie getal besonder prominent. Daar is sewe gemeentes, sewe kandelare, sewe seëls, sewe basuine, sewe skale, sewe sterre, sewe geeste, en so aan.

Alles tesame kom die getal sewe meer as vyftig keer in die Boek van Openbaring voor. Hierdie feit is al lankal bekend dat die getal sewe meer dikwels as enige ander getal in die Bybel voorkom. Dit is egter betreklik heel onlangs dat dit ontdek is dat die getal sewe ook op ‘n heel mistieke wyse ook onder die oppervlakte as het ware, van die “Hebreeuse Ou Testament” en die “Griekse Nuwe Testament” voorkom. Dit beteken dat hierdie feit nie opgemerk sal word as ‘n mens na die oorspronklike teks bolangs as net die woorde kyk nie. Die gewone Hebreeuse en Griekse lesers sal dit nie raaksien nie. Hulle is op ‘n wonderbaarlike wyse onder die oppervlakte verborge.

 

Duisende wat die oorspronklike Hebreeuse en Griekse teks van die Bybel bestudeer het, het nooit hierdie verborge voorkoms van die getal sewe raakgesien nie. Hierdie sewes is so diep verborge dat alleenlik ‘n spesiale ondersoek en navorsing dit aan die lig sal bring. Dit is ontdek dat letterlik duisende van hierdie sewes op ‘n geheimsinnige wyse in die samestelling van die oorspronklike teks verborge en ingeweef is, en dat dit dien as God se “watermerk” as het ware op sy Woord.

Op ‘n bomenslike en uiters merkwaardige wyse is hulle op elke denkbare wyse ingeweef en versteek in die oorspronklike Hebreeuse en Griekse letters, woorde, sinne, paragrawe en hele gedeeltes van die Bybel. Dit is hierdie merkwaardige patroon wat ons die onweerlegbare wetenskaplike bewys van die woord vir woord Goddelike inspirasie van die Bybel gee.

Hier volg nou enkele voorbeelde van wat ons bedoel, en onthou dat daar geen ander boek ter wêreld is, in watter taal ookal en in watter tyd ookal geskryf, wat hierdie eienskap besit nie, net die Bybel alleen.

Die Boek Génesis, Hoofstuk 1:1.

Dit is voorwaar merkwaardig dat die aantal woorde in hierdie vers (in die oor-spronklike Hebreeus) nie 6 en ook nie 8 is nie, maar 7! Tel jy nou weer die aantal letters in hierdie woorde, dan is hulle ‘n volkome veelvoud van 7. Hulle is nie 27 of 29 nie, maar presies 28, of 4x7. Maar dit is nog nie al nie. Die eerste drie van hierdie sewe woorde bevat die onderwerp en die gesegde van die sin. Hierdie drie woorde word vertaal as -”In die begin het God - - - - geskape”. Die aantal letters in hierdie drie Hebreeuse woorde is presies 14, of 2x7. Die laaste vier van hierdie sewe woorde bevat die voorwerp van die sin. Hierdie vier woorde word vertaal - “die hemel en die aarde.” Die aantal letters in hierdie laaste vier Hebreeuse woorde is 14, of twee sewes. Verder bestaan hierdie laaste vier Hebreeuse woorde uit twee voorwerpe. Die eerste is “die hemel” en die tweede is “en die aarde.” Die aantal letters in die eerste voorwerp is presies 7. Die aantal letters in die tweede voorwerp is 7. Die drie hoof woorde in hierdie vers van presies sewe woorde, is “God” – die onderwerp - en “hemel” en “aarde” - die voorwerpe. Die aantal letters in hierdie drie Hebreeuse woorde is presies 14, of 2 sewes.  

Die aantal letters in die orige vier woorde van die vers is 14, of 2 sewes. Die kortste van hierdie sewe woorde is presies in die middel, met drie aan elke kant. Die aantal letters in hierdie woord plus die aantal letters van die woord aan sy linkerkant is presies sewe. En dit is presies ook so met hierdie woord, en die aan sy regterkant. U kan dus sien dat hierdie sewes, hierdie numeriese eienskappe en feite, op ‘n merkwaardige wyse onder die oppervlakte as het ware weggesteek is. Hulle sal nooit sigbaar vir die gewone leser van die Hebreeuse teks wees nie, maar sal alleenlik ontdek word wanneer daar spesiaal daarna gesoek word.

Hierdie feite hierbo aangegee is maar nog net ‘n paar voorbeelde van nog baie meer merkwaardige numeriese feite wat ontdek is in die samestelling van hierdie eerste vers van die Bybel met sy sewe woorde. Daar is nog letterlik tientalle van ander fenomenale numeriese feite wat in die struktuur van hierdie vers vasgelê is. Hierdie patroon is in elke vers van die Bybel vanaf Génesis tot Openbaring ingeweef. Dit sal onmoontlik wees om in die bestek van ‘n studie soos hierdie vir u al die besonderhede te kan gee, maar ons sal nog ‘n paar gee net om vir u te wys dat die Bybel onmoontlik nie net deur die mens alleen geskryf is nie, maar dat dit ‘n bo-natuurlike, God-geïnspireerde en Godgegewe Boek is.

Ons gaan nou kyk na die Griekste Teks van die eerste verse van die Nuwe Testament.

Matthéüs 1:1-17 - Die Verslag van die Afkoms van Jesus Christus na die Vlees. Die eerste sewentien verse van die boek Matthéüs maak op hulleself ‘n natuurlike logiese indeling uit, want hulle handel oor een bepaalde onderwerp, naamlik die afkoms of geslagsregister van Christus. Hierdie verse kan weer op hulle beurt in twee hoof onderafdelings verdeel word, nl. : (1) Verse 1-11 en (2) Verse 12-17. Elk van hierdie afdelings bevat merkwaardige numeriese eienskappe in die samestelling van die teks.

Die volgende is ‘n paar voorbeelde van die groepe van “sewes” wat onder die oppervlakte van die eerste hoofindeling, naamlik verse 1-11, ontdek is: Die aantal afsonderlike woorde wat in die oorspronklike Griekse Teks gebruik word, is nie 48 of 50 nie, maar presies 49, of sewe sewes. Wat ons bedoel met afsonderlike woorde is dit: die aantal afsonderlike woorde wat in ‘n passaat gebruik word is gewoonlik verskillend van die totale aantal woorde wat daarin voorkom. Byvoorbeeld, die woord “en” kan ‘n paar keer in so ’n passaat voorkom, maar is net een afsonderlike woord. 

‘n Persoon kan byvoorbeeld sê ‘n woordeskat van net vyfhonderd woorde hê, maar daarmee ‘n artikel van vierduisend woorde skryf. Die aantal letters in hierdie 49 woorde is presies 266, of 38 sewes. Van hierdie 266 letters van hierdie 49 afsonderlike woorde is die aantal klinkers (of vokale) presies 140, of 20x7, en die aantal medeklinkers (of konsonante) 126, of 18 sewes. Van hierdie 49 woorde is die aantal wat met ‘n klinker begin, presies 28, of 4 sewes, en die wat met ‘n mede-klinker begin 21, of 3 sewes.

Die aantal selfstandige naamwoorde in hierdie 49 woorde is presies 42, of 6 sewes, en die aantal wat nie selfstandige naamwoorde is nie, is 7. Van hierdie 42 selfstandige naamwoorde in hierdie eerste elf verse is die aantal eie selfstandige naamwoorde presies 35, of 5x7, en die aantal gemene selfstandige naamwoorde 7. Die aantal Griekse letters in hierdie 7 soortname is presies 49, of 7x7. Dit is merkwaardig om op te merk dat in hierdie 7 soortname alleen, daar meer as 20 verskillende numeriese eienskappe is. Die aantal kere wat hierdie 35 eiename voorkom is presies 63, of 9 sewes. Die aantal manlike name in hierdie 35 eiename is presies 28, of 4x7, en die aantal wat nie manlik is nie, is 7. Die aantal kere wat hierdie 28 manlike name voorkom is presies 56, of 8 sewes. In hierdie eerste 11 verse word daar drie vroue genoem - Tamar, Ragab en Rut. Die aantal Griekse letters in hierdie drie name is presies 14, of 2 sewes. Net een stad word in hierdie gedeelte genoem, naamlik Babilon. Die aantal Griekse letters in hierdie woord is presies 7.


Van hierdie 49 afsonderlike woorde in die eerste 11 verse, is die aantal woorde wat meer as eenkeer voorkom presies 35, of 5 sewes. Die aantal woorde wat net eenkeer voorkom is 14, of 2 sewes. Van hierdie 49 Griekse woorde is die aantal wat in net een vorm voorkom presies 42, of 6 sewes.

Die aantal wat in meer as een vorm voorkom, is 7. Hierdie numeriese feite van sewes is natuurlik vir die gewone leser van die Griekse Teks verborge. Hulle is voorwaar op ‘n mistieke wyse onder die oppervlakte verborge en kon alleen ontdek word deur doelgerigte naspeuring en berekening. Die tweede gedeelte, naamlik verse 12-17, bevat net sulke merkwaardige kenmerke. Die feite wat hierbo genoem is, is maar net ‘n paar van nog baie meer werklik merkwaardige numeriese eienskappe wat in hierdie gedeelte opgesluit lê. 

Ons sal nou nog na ‘n paar eienskappe kyk wat in ander gedeeltes van die Nuwe Testament voorkom.

Matthéüs 1:18-25:

Die Verhaal van die geboorte van Christus. Dit is weereens voorwaar merkwaardig, en selfs aangrypend, dat die aantal afsonderlike Griekse woorde wat in hierdie gedeelte voorkom nie 76, of 78 is nie, maar presies 77, of 11 sewes. Dit is ook besonder interessant om te merk dat van hierdie 77 woorde, is die aantal woorde wat die engel gebruik het in sy gesprek met Josef, presies 28, of 4 sewes is. En selfs hierdie kort boodskappie van die engel het merkwaardige numeriese eienskappe in sigself. Hulle is heeltemal afsonderlik van die res van hierdie gedeelte, en tog maak hulle deel uit van die numeriese eienskappe van die hele gedeelte.

Hulle is op so ‘n wyse ingevleg dat die hele gedeelte merkwaardige verskynsels van die getal 7 bevat. Hier volg nou net twee numeriese feite wat op ‘n sonderlinge wyse in die tweede Hoofstuk van Matthéüs verskuil lê: Matthéüs Hoofstuk 2: Verhaal van die kinderjare van Christus. Die aantal afsonderlike Griekse woorde in die tweede hoofstuk van Matthéüs is presies 161, of 23 sewes. Die aantal Griekse letters in hierdie 161 woorde is presies 896, of 128 sewes. Daar is verskeie paragrawe in hierdie Hoofstuk, en elke paragraaf het verbasende numeriese eienskappe wat heeltemal eie aan elkeen is. Hulle is afsonderlik van die res van die gedeelte, en tog, op ‘n besondere en ingewikkelde wyse, maak hulle deel uit van die merkwaardige eienskappe van die hele hoofstuk.

So byvoorbeeld is die aantal afsonderlike Griekse woorde in die eerste ses verse presies deelbaar deur 7. Daar is drie toesprake in die hoofstuk. Herodus praat, die wyse manne praat en die engel praat. Elke toespraak het numeriese eienskappe wat eie is aan homself, en tog maak elkeen net ‘n deel uit van die hele hoofstuk wat weer fenomenale eienskappe het wat eie is aan homself. Elke afdeling vertoon dieselfde numeriese verskynsel wat in die hele hoofstuk as geheel aangetref word. Wanneer ons die Boek Markus ondersoek, dan vind ons dat presies dieselfde numeriese verskynsels wat in Matthéüs voorkom, ook in Markus voorkom.

Markus Hoofstuk 1:1-8:

Die aantal afsonderlike Griekse woorde in hierdie eerste agt verse is nie 76 en ook nie 78 nie, maar presies 77, of 11 sewes. Van hierdie 77 woorde is die aantal wat met ‘n medeklinker begin, 35 of 5 sewes. Die aantal woorde wat Johannes gebruik het, is presies 21, of 3 sewes. Hierdie is maar net ‘n paar voorbeelde van die baie numeriese strukture wat in hierdie gedeelte aangetref word.

Verse 9, 10 en 11 beskryf vir ons die doop van Jesus, en daar is presies 35 afsonderlike woorde in hierdie gedeelte, d.w.s. 5 sewes. Wanneer ons na Hoofstuk 2 van Markus gaan vir nog ‘n voorbeeld, dan vind ons in verse 13 tot 17 die verslag van die Roeping van Levi, en van Christus se gesprek met die Skrifgeleerdes en die Fariseërs. Die aantal afsonderlike Griekse woorde in hierdie gedeelte is presies 49, of 7 sewes. Van hierdie 49 woorde is die aantal wat deur Christus gespreek is, presies 14, of 2 sewes, terwyl die aantal woorde wat deur die Skrifgeleerdes gebruik is, presies 7 is. In Markus 4:3-20: vertel Christus die Gelykenis van die Saaier. Die aantal afsonderlike Griekse woorde in hierdie gedeelte is presies 49, of 7 sewes.

In Markus 13:5-37 vind ons ons Heer se baie belangrike boodskap aangaande die toekomstige gebeure en die Wederkoms van Christus. Die aantal afsonderlike Griekse woorde in hierdie gedeelte is presies 203, of 29 sewes. Wanneer ons aangaan na die laaste gedeeltes van Markus, dan vind ons dieselfde merkwaardige numeriese verskynsel. Die volgende is maar net vier van oor die honderd numeriese eienskappe wat ontdek is in die samestelling van net hierdie een gedeelte van twaalf verse - Markus 16:9-20. Die aantal afsonderlike Griekse woorde in hierdie gedeelte is presies 98, of 14 sewes. Die aantal letters in hierdie 98 woorde is presies 553, of 79 sewes. Van hierdie 553 letters is die aantal klinkers presies 294, of 42 sewes. Die aantal mede-klinkers is 259. of 37 sewes. Van hierdie 98 woorde is die aantal wat deur Christus gebruik is toe Hy sy dissipels toegespreek het, presies 42, of 6 sewes. Die aantal woorde wat geen deel van Christus se toespraak uitmaak nie, is 56, of 8 sewes.

Hierdie gedeelte bevat nie net merkwaardige numeriese eienskappe as ‘n geheel nie, maar dit bevat ook eienskappe binne eienskappe, en daar weer verdere eienskappe binne daardie eienskappe. Die afsonderlike paragrawe het eienskappe eie aan hulself, wat weer saamgaan met die eienskappe van die gedeelte as geheel. Dit is voorwaar merkwaardig. Dit is veral besonder verblydend en geloofsversterkend as in aanmerking geneem word dat daar sommiges is wat hierdie gedeelte betwis omdat hulle sê dat dit nie in die oorspronklike manuskripte van die Bybel voorkom nie. Met hierdie numeriese patroon in, wat dwarsdeur die Bybel voorkom, is daar nou geen twyfel meer nie dat dit net so Goddelik geïnspireerd is as enige ander deel van die Bybel. 

“Ketting” Eienskappe

Die voorbeelde wat ons tot dusver gegee het, is voorbeelde of eienskappe wat onder die oppervlakte van enkele gedeeltes voorkom. Die volgende eienskappe kom egter op ‘n ander manier voor. Hulle word ketting eienskappe genoem, want hulle kom voor in woorde wat ver van mekaar verwyder is. Die woorde in ‘n “ketting” eienskap is dwarsoor verskillende boeke van die Bybel versprei. Hulle is nie tot een enkele besondere gedeelte beperk nie. 

Die name van die Bybel-skrywers byvoorbeeld, is wyd dwarsdeur die Bybel versprei. Dit is voorwaar merkwaardig om op te merk dat die getal “sewe” selfs in die verspreide voorkoms van hierdie name aangetref word. Die aantal Ou Testamentiese skrywers wat in die Bybel genoem word, is presies 21, of 3 sewes. Die numeriese waarde van hierdie 21 Hebreeuse name is ook deur 7 deelbaar; dit is presies 3808 of 544 sewes. Van hierdie 21 Ou Testamentiese skrywers, is diegene wat in die Nuwe Testament genoem word, Moses, Dawid, Jesaja, Jeremia, Daniel, Hosea, Joel - presies net 7. Die numeriese waarde van hierdie 7 name is presies 1554, of 222 sewes.

Die naam wat die grootste aantal kere in die Ou Testament voorkom is Dawid. Die aantal kere wat sy naam aangetref word is presies 1134, of 162 sewes. Die naam Jeremia, byvoorbeeld, kom in 7 Ou Testamentiese boeke voor en in 7 verskillende Hebreeuse vorme, en die aantal kere wat dit in daardie 7 boeke van die Ou Testament voorkom is presies 147, of 21 sewes. Die aantal kere wat Moses, die skrywer van die eerste Boek van die Bybel, in die Bybel voorkom, is presies 847, of 121 sewes. Hierdie is weereens net ‘n paar voorbeelde van die baie merkwaardige numeriese eienskappe wat onder die oppervlakte van die name van die skrywers van die Bybel voorkom.

Daar is byvoorbeeld 38 of meer eienskappe in die voorkoms van net die naam van Moses. Wie het hierdie merkwaardige numeriese ontwerpe beplan en uitgevoer? Wie het hulle in die basiese struktuur van die grond teks van die Bybel geplaas. Die duisende van volmaakte patrone en ontwerpe moes in die Skrif ingekom net deur middel van een of ander “intelligensie”. Dit kon alleenlik maar ‘n menslike of ‘n bo-menslike of goddelike intelligensie gewees het. Was hierdie merkwaardige numeriese ontwerpe deur die manne wat die verskillende Boeke van die Bybel geskryf het, beplan? 

Dit is onmoontlik. Indien enigiemand ‘n verstaanbare opstel van 300 woorde kon skryf waarin dieselfde ontwerpe en skemas van 7 voorkom as in die eerste sewentien verse van Matthéüs, sou hy homself as ‘n wonder bewys as hy dit in ses maande doen. Indien ‘n persoon dieselfde kon doen in 161 woorde met dieselfde patroon as in Matthéüs 1:18-25, dan sou hy homself as ‘n nog groter wonder bewys as hy dit binne drie jaar kon regkry.

Geen sterfling sal in ‘n leeftyd van ‘n honderd jaar die ontwerp kon namaak wat in maar net een enkele Boek van die Bybel aangetref word. Dit moet onthou word dat elke bykomstige sin die probleem om hierdie numeriese eienskappe te konstrueer, volgens die wet van ‘n meetkundige reeks vergroot, want elke bykomstige paragraaf moet so ontwerp word dat die vasgestelde numeriese verhoudings sal nakom wat pas by nie net wat voorafgegaan het nie, maar ook by dit wat nog moet volg.  Elke bykomstige letter, woord en sin maak die hele saak gedurig oneindig meer ingewikkeld en omvattend.

U moet ook onthou, geagte leser, dat baie van die skrywers van die Bybel manne was wat uit maar baie gewone lewenswandelinge kom - manne wat baie min, indien enige, skoolopleiding gehad het. Hoe kon Matthéüs, Markus, Lukas en Johannes byvoorbeeld ooit eers probeer het om die harmonieuse numeriese eienskappe en ontwerpe wat in hulle boeke as geheel aangetref word in elke afdeling en onderafdeling, sinne, woorde, letters in te bou? Onmoontlik!

‘n Sekere Dr. D. B. Turney het probeer om ‘n stukkie te skryf wat sommige van hierdie eienskappe bevat. Hy sê: “Ek het numeriese waardes aan die alfabet gegee, en probeer om iets te skryf wat aan die numeriese vereistes sou voldoen, wat elke afdeling ‘n veelvoud van sewe sou maak, en ook al die ander eienskappe van die Bybelse aritmografie sou bevat, sonder om die betekenis van die stuk in absolute onsin te laat verval. Ek kon nie daarin slaag nie, en tog word dit gedoen in elkeen van die duisende paragrawe van die Bybel sonder die minste sigbare inspanning”.

Om net nog een van baie ander bewyse te noem, wat bewys dat die numeriese ontwerp van die Bybel onmoontlik nie deur die skrywers self beplan kon gewees het nie: Die dubbele ontwerp van sewes in die naam van Moses. Dit moet onthou word dat die skrywers nie in dieselfde tyd geleef het nie - hulle leeftye is baie jare van mekaar verwyder. Daar is ‘n periode van 1600 jaar tussen die eerste en die laaste boek van die Bybel. Dit moet ook onthou word dat die 66 boeke van die Bybel deur 33 verskillende persone geskryf is. Boonop was hierdie persone oor verskillende lande van die wêreld versprei, en was hul agtergrond heeltemal verskillend. 

Hoe kon hierdie manne die verspreiding van die naam “Moses” dwarsdeur die hele Bybel beplan het om aan hierdie merkwaardige numeriese patroon te voldoen? Hoe het elke skrywer geweet om oor 1600 jaar hulle woorde so te kies dat wanneer alles klaar geskryf is, dit net mooi deelbaar deur sewe sou wees?

Die ganse Bybel is van Génesis tot Openbaring op duisende maniere deur hierdie aaneenlopende manier aanmekaar gekoppel. Dit voeg bymekaar in paragraaf met paragraaf, boek met boek, en die Ou Testament met die Nuwe Testament. Die numerieke van die Ou Testament en die Nuwe Testament vorm saam wonderbaarlike harmonieuse patrone, wat sou uitmekaarval as die een of die ander weggelaat word. Die Ou Testament was voltooi 400 jaar voor die Nuwe Testament begin het, en tog vorm die twee saam een volledige openbaring. Hulle stem volkome saam - beide is deel van een harmonieuse geheel. Die Bybel is die enigste Boek wat volgens ‘n wonderbaarlike numeriese patroon saamgestel is. Daar is geen ander boek bekend in die hele wêreld wat volgens hierdie of enige ander matematiese patroon geskryf is nie. Selfs die Apokriewe Boeke bevat nie hierdie patroon nie. Baie mense het baie jare deurgebring om die ou klassieke van die Ou Grieke deur te soek, maar kon geen patroon vind nie.

Dit is dus duidelik dat die Bybel nie die werk is van baie breinkragte nie, maar die van net Een Groot Outeur, naamlik God. Alleen die Alomteenwoordige Alwetende en Almagtige God kon so ‘n Boek deur die inspirasie van die Heilige Gees geskryf het. En as ons dan nog besef dat Jesus Christus self die Woord is wat vlees geword en onder ons kom woon het, dan word ons nog meer deur hierdie groot Wonder oorweldig en tot aanbidding laag aan sy voete gebring. 

Dragtye:

Mens 280 dae; Skaap 147; Leeu 98; Hond 63; Kat 56; Haas en Rot 28;

Muis 21; Eend 28; Hen 21.

Almal deelbaar deur sewe.

 

Einde.